close   My Profile

close   Members
close   Calendar

close   Skills Development

close   MJOY Entries



close   Site Information

Wenner van 2010 SAGMJ Motor van die Jaar


18 March 2010

Volkswagen Golf VI 1.4 TSI 90 kW Comfortline is deur die SA Gilde van Motorjoernaliste aangewys as die 2010 Suid Afrikaanse Motor van die Jaar

Die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste (SAGMJ) het op Donderdag 18 Maart die Volkswagen Golf VI 1.4 TSI 90 kW Comfortline aangewys as 2010 Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar (MVDJ) tydens ’n glansgeleentheid by die Gallagher konferensiesentrum in Midrand. Die funksie, met die kompetisie-borg WesBank as gasheer, is bygewoon deur industrieleiers en ander welbekende verteenwoordigers van die plaaslike motorbedryf.

Die aankondiging van hierdie groot eer volg ’n streng stem- en toetsproses van alle kwalifiserende voertuie wat tussen 1 November 2008 en 31 Oktober 2009 in die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel is.

Agt finaliste vir hierdie kompetisie is aan die einde van verlede jaar gekies na ’n diepte-peiling van alle volle lede van die SAGMJ en ’n gevolglike tweede stemming van lede van die MVDJ-jurie. Die MVDJ-jurie, wat saamgestel is uit die land se top motorjoernaliste, het die finaliste vir twee dae in Februarie vanjaar deur hul passies gesit en aan ’n streng punte-toekenningsproses onderwerp.

Die finale, geouditeerde puntetelling wys duidelik dat die Volkswagen Golf VI 1.4 TSI 90 kW Comfortline die uiteindelike wenner van hierdie gesogte toekenning, die hoogste toekenning van sy soort in die motorbedryf, is. Die SAGMJ, ’n professionele bedryfsliggaam van gekwalifiseerde motorjoernaliste, ken hierdie prys elke jaar vir die afgelope 25 jaar toe.

Die Volkswagen Golf VI 1.4 TSI 90 kW Comfortline het strawwe mededingers in die vorm van Alfa Romeo MiTo 1.4 TBi, Audi Q5 2.0T FSI® quattro® S tronic, Chevrolet Cruze 1.8 LS, Hyundai i20 1.6 GLS, Suzuki Alto 1.0 GLS, Toyota Prius 1.8 ECVT Advanced and Volvo XC60 3.0T Geartronic uitgestof. Al hierdie motors was finaliste wat meegeding het vir die hoogste toekenning in die land se top motorbyeenkoms.

’n Groot gedeelte van die toetswerk waaraan die finaliste onderwerp is, is gedoen by die wereldbekende Gerotek voertuigtoetsterrein buite Pretoria. Dit maak die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie uniek tussen soortgelyke toetse elders ter wêreld, aangesien omvattende toetse op alle finaliste binne ’n beheerde toetsomgewing gedoen word. Die finaliste se direkte mededingers in die motormark is natuurlik ook in berekening gebring en hulle is dus in hul segmente, eerder as direk teen mekaar, getoets.

Die SA Motor van die Jaar hoort, by definisie, harte warm te laat klop as ’n werklik uitmuntende motor in sy klas, maar ook in die mark as geheel.

Die MVDJ-kompetisie is immers ’n maatstaf van voertuig-uitnemendheid en die wenmotor moet hoë punte haal in ’n rits kategorieë wat onder meer waarde vir geld, veiligheid, dinamika, tegnologie en estetika in ag neem.

Die wenner moet ook duidelik strewe om innovasie en vindingrykheid ten opsigte van bemarking en ingenieurswerk in sy klas te verteenwoordig en as sulks moet hy die verpersoonliking wees van ’n brawe sprong vorentoe vir motorwese as geheel. Die wenner moet verkieslik nuwe standaarde in sy klas stel. In kort moet die wenner in alle opsigte ’n waardige draer wees van die eksklusiewe en gesogte titel as die “Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar”.

Die MVDJ-kompetisie word geborg deur WesBank, met ondersteunende borgskap van Total Suid-Afrika.

  • Die SAGMJ bied die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie reeds sedert 1986 aan.
  • WesBank het die kompetisie reeds sedert sy totstandkoming geborg.

Vorige wenners:
  • 1986 Toyota Corolla Twin Cam
  • 1987 Mercedes 260
  • 1988 BMW 735i
  • 1989 Toyota Corolla GLi Executive
  • 1990 BMW 525i
  • 1991 Opel Monza 160 Gsi
  • 1992 Nissan Maxima 300 SE
  • 1993 BMW 316i
  • 1994 Opel Kadett 140
  • 1995 Opel Astra 160iS
  • 1996 Audi A4 1,8
  • 1997 BMW 528i
  • 1998 Ford Fiesta Fun
  • 1999 Alfa Romeo 156 T-Spark
  • 2000 Renault Clio 1.4 RT
  • 2001 BMW 320d
  • 2002 Audi A4 1.9 TDI
  • 2003 Polo TDI
  • 2004 Renault Megane 1.9 dCi
  • 2005 Volvo S40 2.4i
  • 2006 Audi A3 Sportback 2.0T
  • 2007 Honda Civic 1.8VXi Sedan
  • 2008 Mazda2 1.5 Individual
  • 2009 Honda Accord 2.4 Executive


  •  6 images

    273544

    273543

    273541

    273540

    273539

    273538